Lat jy gan, Vrou!

lat-jy-gan-fotos-bruid

Facebook sent me a memory recently : a loving message from a friend who has since passed away from cancer.

Wim loved to refer to “impulses” when referring to writing and Life!

So his message from Beyond became my impulse to post this bittersweet sketch I wrote years ago before the “rinderpest” as I jokingly refer to the time in my life when things changed, never to be the same again.

Lat jy gan, vrou – lat jy gan!

Oftewel: ‘n Bruidskar het nie brieke nie.

(‘n Storie vir middeljarige voortelevisiekinders)

Ek en ‘n vriendin sit anderdag vroe more en filosofeer.  Dis iets wat ons al hoe meer doen nou lat ons so raak-raak aan die middeljare.  ( Net raak-raak, gehoor, nog nie behoorlik vat nie!).  Daar kom die gewigtige onderwerp van die huwelik ter sprake.

Ons praat toe ewe oor die gewaarwording wat ons albei gehad het die dag toe ons vir die eerste keer die bruidsgewaad en sluier aangepas het.  Daar staan ‘n mens voor die spieël en ‘n vreemde vrou staar terug.  Jy ken jouself nie – dis “die bruid”, die universele vrou wat so misterieus vir jou loer.  Kom ons wees maar eerlik, sy’t so ‘n effense selftevrede Mona Lisa-glimlaggie om haar bakkies en daar’s drome in haar oë.

Sien, of sy nou wil of nie….. sy’t verwagtinge van die eg.  Sonder twyfel (ja, selfs in die een-en-twintigste eeu.)  Ten spyte van al die artikels wat sy lees en die praatjies wat sy hoor, bly daar maar die ewige hoop op die sprokiesgeluk.  Dit help seker ook nie juis dat sy gewoonlik ietwat verlief is nie, alhoewel synde ‘n voortelevisiekind is ek nou nie heeltemaal seker hoe dié wat so voor die tyd saamwoon se verliefdheidsfaktor staan nie.

Kom ons sê dus, hoe dit ookal sy, daar’s opwinding in die lug!

Nou wonder ek net of dit nie genadiger sal wees om die arme witgewaad sommer by voorbaat ‘n paar dinge mee te deel nie. Soos lat dit my smaak dis eintlik hemel en hel so in een bondel om met ‘n man(s) (mens!?) te leer saam leef.

Die ergste wat ek kan onthou , is die ontnugtering oor die alleenwees – die eensaamheid.  Ek is baie seker toe ek besluit het ek gaan trou, was “om nooit alleen te voel” beslis deel van die pakket.  Foutjie!  ‘n Mens kan toe al die tyd op jou heel alleenste voel so saam met jou geliefde in die huweliksbed of wat praat ek alles?

Ek het seker nie die storie mooi verstaan nie, want ek kan nog onthou lat ek gedink het die raad wat my ma se suster vir my gegee het, is maar raar:

“Dita, daar twee goed wat jy moet onthou.  As jou man sy klere op die vloer lat lê, is enige geld wat jy in sy sakke kry terwyl jy optel, joune.  Noem dit maar ‘n ‘pickup tip’.

Jy moet ok vir jou ‘n tas kry en dit vol ou skoene of ander goeters wat jy nie gebruik nie stop.  Dié skuif jy summier onder die bed in .  Wanneer julle die eerste keer so vassit, lat jy besluit  jy loop, vat jy net die tas en wanneer jy oor ‘n halfuur of so terugkom, sit jy dit net weer terug.  Niks ge-in-en-uitpak nie.”

Ek moet bieg, ek was eers in die war. Gedink my huwelik sal vol gemeensaamheid en ander erg verhewe konsepte wees.  Niks van die ondermaanse geploeter van ander mense se klere optel of agter hulle aan skoonmaak nie. Tot ek die eerste  keer in die middel van die nag wou loop en met ‘n skok besef het waarheen dan nou?  Toe tref dit my!  Die vrou weet waarvan sy praat!

Wat die klere optel betref – dit werk!  Dit laat ‘n mens beter voel. Veral in daai armoedejare en ook besonder goed as hy rook en die geldjies nodig het vir sigarette.

Oor die weglopery het ek later ook maar gespot.  Ek kon die eerste ongeveer nege jaar van my huwelik nie bestuur nie.  Manlief het baie daaroor gegrommel – gesê ek is nie behoorlik uitgereik nie.  Sy dogter sal glo van ‘n sertifikaat vergesel word dat haar blindederm, mangels, verstandtande verwyder is en dat sy in besit is van ‘n geldige rybewys.  Maar ek het die chauvinis in eie munt terugbetaal met my stelling dat ek oortuig is die Here het geweet Hy kan eers vir my ‘n bestuurslisensie lat kry wanneer ek nie meer die hasepad sal kies nie.

Toe ons al ‘n hele paar van daai alte bekende sakke sout verorber het, kon ek wettig my ry kry, maar daar’s ek nie meer lus nie.  Altans nooit op een gegewe oomblik so moedeloos dat ek dit verder as ‘n paar keer om die buurt waag nie.  Verkieslik laat in die nag en met skreeuende bande vir effek. Maar ek sit altyd weer met die probleem van waarheen.

Die weglopery lat my dink aan Billy Graham, die evangelis wat ander aand op die Oprah Winfrey-show dié bekende grappie as die waarheid vertel.  Hy en sy wederhelf is al vyftig jaar getroud.  Iemand vra haar toe of sy al  ooit aan skei gedink het.  Waarop sy antwoord: “Skei, nooit…moord, baie!”. En dis nogal heilige mense,nê!

Wanneer ‘n mens so lank met ‘n ander mens saamleef, word hulle regtig soos in die Bybel staan “een met jou”. Vriende van ons kuier ander dag by ons.  Hulle trek so agt-en-twintig jaar saam in die tuig.  Ek moes net glimlag oor hoe dié tweetjies mekaar ken.  Sy kan met groot akkuraatheid voorspel hoe hy gaan reageer op vrae – wat sy antwoord gaan wees.  Jammer ‘n mens kan nie geld uit hierdie vermoë maak nie, want dit smaak my, dit kom nie van self nie.  Baie klein jakkalsies moet sekerlik vrek voor ‘n mense ‘n ander so goed ken dat jul gedagtes en woorde só een word.

‘n Wonder voorwaar dat ‘n ander mens jou ten spyte van al jou skete, foute en dinge tog leer aanvaar het soos jy is.  En jy vir hom.

Die manne sal sekerlik getuig oor een groot jakkals wat die wingerd verniel.  Wat daai aanvaarproses mar swaar maak.  Luister ‘n mens na my wederhelf van digby die sewe-en-twintig jaar sal hy beweer dat ek tot onlangs toe vir ongeveer tien dae uit elke maand in ‘n monster verander het.  Wanneer die fisiologie pla, waai die hare.  Dis gewoonlik ou koeie wat die res van die maand rustig wei.  Die vog op my brein lat my al  die dinge wat krap, naderhark.  Probeer Meneertjie toe mos ‘n intellektuele gesprek oor die onderwerp voer.  Terwyl ek huil dat die trane spat, troos hy (ek is seker met opregte bedoelings) dat ek kwansuis nie “ toerekeningsvatbaar “is nie.  Dis soos ‘n yslike, rooi lap voor die spreekwoordelike bul en ek dink daai heilige tannie Graham het ‘n punt beet!

Maar wanneer ‘n mens deur die Genade en die huismense se geduld nog ‘n daai-tyd-van-maand oorleef het, bly dit mar salig om agter sy blad in te kruip en lepel te lê.  Dan’s daar ok daai heel oomblikke wanneer Manlief weerloos sy hart oopmaak en praat oor wat in hom aangaan.  Of jy hom skielik uit ‘n ander hoek bekyk en merk dat die hare al hoe dunner word en die kaalkol op sy kop groter.  Dit maak ‘n mens se hart sommer week sodat jy baie dae se afskeep en gebrom verduur.

Nee wat, lyk my dis eintlik ‘n ingewikkelde storie, dié getroud wees.  Dis harde werk en hartseer werk en nimmereindigende werk.  Ma help ok nie juis nie.  Kla ‘n mens by haar oor hy ses bakke gebruik om een gereg te maak (wat jy natuurlik alles moet was); of permanent (of so voel dit) voor die televisie sit en koerant lees, sê sy net met die wysheid van die jare: “Tja, my kindjie, dis wat dit is getroud te wees.”

Nietemin .  Ek het altyd gedink, die tannies huil by die troues oor die mooigeid van die bruid, die blommemeisies en die dinge.  Nou vermoed ek dis van mooigeid en seergeid en sommer ‘n klomp ander geidte of is dit dalkies guite?

Dis seker nou dié….

Ek en twee vriende (ok middeljarig en toevallig mans) drentel onder akkerbome deur en verbeel ons ons is weer studente.  Die een is al een-en-dertig jaar getroud en die ander nog vry en vlug van voet.  Dié twee steek in hul spore vas en staan my met pure verstomming en aangaap.

Want sien, daar ry ‘n bruidskar verby.  Voor ek ‘n hek voor my bek kan kry, merk ek droog op :’Ai, vrou, weet jy wat jy doen?’

Die twee here se verslae aangesigte, laat my toe maar byvoeg : “Lat jy gan, vrou – lat jy gan!”.

 

 

 

Advertisements
This entry was posted in Uncategorized and tagged , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s