Dit gaan oor persoonlikheid, Juffrou!

Student

‘n Foto uit my studentejare. In my finale jaar.  Let asseblief wel: Nie ‘n blonde skoonheids-koningin-haar in sig nie!

My oorlede ma was ‘n wyse vrou.

Sy het vir my net een stuk raad gegee, toe ek universiteit toe vertrek.

“Oppas vir tokkelokke en mense sonder ‘n sin vir humor”.

Nogal rare raad, voel dit vir my.  Veral aangesien ek nie eers geweet het wat-vir-‘n- ding ‘n tokkelok  nou eintlik is nie en haar moes vra.

Skaars op die kampus aangeland en die volgende gebeur:

Dis middagete in Huis De Villiers toe ‘n afvaardiging mans die eetsaal binne seil.  ‘n Vreemde verskynsel wat ons almal regop laat sit.

Hulle pyl op die HK-tafel af en daar word omtrent gegroet en gekloek en gedoen tot hulle almal hulle sit kry.

Kort voor lank, staan een van ons slanke, beeldskone HK-lede op om te verduidelik.

“Dames, verwelkom asseblief die HK van Dagbreek. Hulle hou vanjaar saam met ons jool en is hier om kandidate vir die Mejuffrou Matieland kompetisie te kies”.

Die manne loer so onderlangs en bolangs na ons almal en konfereer en griffel op papiertjies.

Na ete word die name van die mooistes en blondstes onder ons eerstejaars uitgeroep.

Ek het by die aanhoor van die aard van die manne se sending summier alle belangstelling in die spul verloor.

Ek is dus uit my geloof uit geskok om heel laaste my eie naam te hoor.  Ek slaat gloede uit en kyk verwilderd en verward na my mede-eerstejaars met totale verbystering op my gesig.  Ek trek my oë op skrefies en skud my kop om seker te maak my ore speel my nie parte nie. Maar sowaar, my maters kyk my almal aan, wens my geluk en stamp liggies aan my.

Wat kan ek doen, ek stap saam.

Op pad na Dagbreek-manskoshuis, begin ek vermoed hoe my naam op die lys beland het.

Die naamuitleser stel hom aan my voor. Hy is van my tuisdorp en die ouer broer van een van my vriendinne. Hy wou my ontmoet .

Daar ontspan ek ‘n bietjie en besluit daar is niks te verloor nie. Ek kan net sowel saamspeel.

Tot ek my alleen in ‘n kamertjie met ‘n klomp vreemde mans bevind, wat die eienaardigste vrae aan my begin stel.  Dis van vol swembaddens en mans en vrouens en wie eerste moet uitklim en ander ewe onverstaanbare vrae.

Daar staan ek verbouereerd in my pofmou kolletjiesrok soos ‘n bokkie in die ligte, want ek kan voel daar is ‘n dieper betekenis aan die here se vra, maar slaat my dood, ek het nie die vaagste benul wat dit mag wees nie.

Ek hou my “pose” en bars eers ná die marteling buite op die stoep in trane uit.

Dadelik is een van die vername manne by om te vra wat dan nou skort?

Ek beduie in ‘n bewerige stem dat ek myself glad nie as skoonheidskoningin-materiaal sien nie en wys ewe vir hom my ongeverfte vingernaels as onteenseglike bewys van hierdie feit.

“Maar, Juffrou, dit gaan oor persoonlikheid”, verseker die man my. “Jy het, om die waarheid te sê, die tweede meeste stemme gekry en is beslis een van ons drie kandidate”.

My hart sak.

Ek probeer nog ‘n keer.

“Ek voel regtig nie dat iemand soos ek geskik is vir ‘n skoonheidskompetisie nie”.

“Hoekom nie?”

“Ek was dan hoofleier van die CSV (Christelike Studente Vereniging) op skool”, kry ek dit uiteindelik uit.

Daar skaterlag die man en sê:

“Juffrou, ons is almal op een ná, tokkelokke”.

Oeps, help, Mamma.

Terug by my koshuis, smeek ek my HK-lid dat hulle eerder die volgende op die lys moet stuur, maar sy wil niks weet nie.

Die kishou : “ Doen dit vir jou koshuis”.

Kom die tyd en ek herhaal paniekerig hierdie mantra’s vir myself: “ Ek doen dit vir my koshuis” en “ Dit gaan oor persoonlikheid, Juffrou”.

Ek haal diep asem en probeer nie te veel kyk na die baie wel-bedeelde beoordelaar wie se rondborstigheid glad nie deur haar rok verbloem word nie.

Toe my beurt kom, projekteer ek my hele persoonlikheid in die antwoord van die vrae oor my “naam”, “van”, “waar ek vandaan kom” en “wat ek studeer”.

Dis klaarblyklik nie genoeg nie. Baie verlig, trippel ek langs die kabbelende leivoor terug koshuis toe.

My skoonheidsloopbaan iets van die verlede.

Vir die res van my universiteitsloopbaan, vermy ek tokkelokke en mense sonder ‘n sin vir humor.

Advertisements
This entry was posted in Herinneringe and tagged , , . Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s