Hamba kahle Baba Credo Mutwa

IMG_4957

I was sad to hear of the passing of Credo Mutwa at the age of 98.

I searched my files to find this piece, I wrote fifteen years ago about my journey with Baba Credo Mutwa from Stellenbosch to Kuruman.

I have chosen to let the innocent woman I was then, speak:

“Hartlangs huis toe

‘n Paar maande gelede het ek ‘n werklik merkwaardige vrou ontmoet. Mary Ann is haar naam. Sy het op my tuisdorp, Stellenbosch, kom woon en werk. Sy is ‘n  kunstenares. Uit die herskepping van ou rommel, skep sy wondermooie kunswerke en in die proses maak sy ook haarself oor – word sy gesond.

Ons paaie het op synchronistiese wyse gekruis en ek het haar begin help in die gallery. Praktiese goed gedoen om haar by te staan met die reëlings vir die groot opening van die gallery wat op die 5de April sou geskied.

‘n Baie bekende Zoeloe man sou die gallery kom open.  Die ou en wyse man: ‘n toordokter, siener, kunstenaar, skrywer en bewaarder van sy en ander swart mense se kennis, wysheid en gebruike sou die aand daar wees.

In ‘n storievertellerstoel sit.

Die stoel is spesiaal vir hom gemaak. Vir die aand. Om hom te vereer. Uit sement en blink klippies, stukkende glas, ou porselein en ander westerse kitsch gemors en baie liefde en eerbied het ‘n towertroon sy gestalte gekry.

Toe hy praat, huil ek….want ek voel die diep liefde vir Afrika en sy mense wat in my siel woon. Kon dit nooit verstaan nie. My broers is albei landuit oor die politiek en die geweld (of so vermoed ek altans).

Maar ek, ek voel anders …nog altyd.

Het al ons land se mense hartstogtelik lief …diep en innig.

Die Here het dit bewerk dat ek die voorreg en verantwoordelikheid sou hê om hierdie wonderlike wysaard en sy geselskap huis toe te neem – Kuruman toe.

Met ons vertrek uit Glencairn, hou ons eers by die see stil en die vrouens skep kosbare seewater  en ek sien hulle is traag om die see te verlaat.  Ek sê vir Baba, wat by my in die motor bly sit: “Ek voel altyd die Here is so naby by die see.”

“Ja”, sê hy . “Ons mense glo alle lewe kom oorspronklik uit die see” en ek hoor hy verstaan wat ek bedoel.

Buite Leeugamka voel ek ‘n snaakse trilling op die stuur, dink eers dis die wind tot die vrouens van agter sê daar’s fout. Die engele help my om veilig stil te hou.  Toe ons uitklim, is die agterste band flenters – gebars.

Baba klim moeisaam uit en gaan sit ‘n entjie weg in die veld. Sy vrou hou hom geselskap en pluk plantjies in die veld.

Dit laat vir my(‘n middeljarige blanke vrou), ‘n 35-jarige leerling sangoma en haar assistent en ‘n seuntjie van tien met ‘n gebarste band in die middel van nêrens nie.

As ek nie so geskok was nie , het ek seker sommer dadelik begin lag. Vir die nuwe Suid-Afrika prentjie van die vrouens (een ewe met ‘n galblaas op die kop!) en die kind wat in die boekie naslaan en die gereedskap uitsnuffel en uitpluis hoe om die band te ruil.

Voor die AA kan arriveer, is ons weer op pad.  Ek het ‘n snaakse gevoel van kalmte en trots en bo-alles Vrede soos ons verder ry.

By die plekke waar ons stilhou om te eet, word ons met respek en eerbied bedien.

Al is ons’n buitengewone bende.

My hart is bly.

Dankbaar.

Ek verbeel my tog daar was dalk een oom wat uit die Steers gestorm het met ‘n bedremmelde vrou agterna .

Maar ek is nie seker of dit oor ons is nie …want in mý hart is daar net vrede en vreugde en die wete dat ek is waar my Skepper my wil hê.

Niks anders nie … net Liefde. My oë sien net die liefde raak.

In Victoria-Wes bly ons in die mooiste plekkie oor. Die eienares ontvang ons hartlik en spot dat sy ons in die Tokkelossie- huise wou sit.  Baba en Mamma slaap in Kalbassie en ons ander (die band-omruilbrigade) kry ons lê in die Pophuis. Hier leer ek dat die leerling sangoma ‘n gekwalifiseerde sielkundige is en verstaan ek hoekom die Heilige Gees in my oor gefluister het dat ek tog nie vooropgesteldes idees oor my reisgenote moet hê nie.

Verstaan ek ook hoekom my hart bly sing: “Bless you, oh my sister!”.

Ons deel mooie, heel oomblikke toe ons vrouens koer oor die pragtige outydse meubels en eetgerei. Ons praat van ons ouma’s wat ook sulke goed gehad het en wens almal ons kon langer in die pamperlangplek bly.

Eg vrou.

Oor die kultuurgrense heen.

Die seuntjie… soek net televisie en kos met tamatiesous.

Die tweede dag van die reis ken ons mekaar al beter . Ek spot my reisgenote : “Ek is is so bly sangoma’s moet ook pieipie”.

Daar is ‘n kosbare oomblik tussen my en Baba toe ek vir hom ‘n beker sap met ‘n spiraal daarop uithou en hy bevestig dat dit ook vir hulle die teken van Ewigheid is.

My hart beaam hierdie sê en dit smaak my dis ‘n kosbare geskenk uit die Here self se hand.

Later praat ons oor boeke en kuns en die uitbuiting van kunstenaars en vergifnis.

Met die inkom in Kuruman begin dit net so effentjies te reën. ‘n Seën vir die terugkerendes.

Met die afskeid, huil ek weer ombeskaamd en Mamma omhels my en sê in my oor : “Don’t cry, we will miss you too. You are a good girl.  Take good care of yourself”.

Ek mompel iets oor die engele wat my altyd omring en Mamma loer oor my skouer en sê : “I see”.

Baba sê dankie en dat ek moet kontak hou.

By my gastehuis vir die aand, wil ek steeds huil. Ek bel ‘n vriendin en vertel van al die oomblikkies en die gewaarwordings – probeer elke kosbare impuls oproep en oorvertel …so of ek dit wil bewaar.

Die volgende dag reis ek alleen terug.

My hart is vol herinneringe en dit voel of alles om my meteens helderder en varser is.

Ek verkneukel my aan die immer wisselende landskappe van ons pragtige land. Bêre die prentjie van kindertjies net buite Upington, wat met swartsakvlieërs speel, in my hart.

Wonder of ‘n juffrou soos ek hulle dit leer maak het?

In Calvinia by die Hantamhuis laat die Karoosterre my na my mense en Liefde verlang. Daar is turksvystroop te koop. Ek neem ‘n botteltjie vir my pa omdat dit my aan my oorlede ma  laat dink.

Ek koop ‘n CD en kry lag toe ek sien sy naam is “Tokkel Los – Hartlangs huis toe.”

Ek ry hartlangs huis toe .

Verby bekende plekke en naamborde.

Letterlik alles wat ek sien, praat met my. Roep vir my mense en gebeure op. Pieter Strauss sing van die “Annerlikheid van my land” en ek sing uit volle bors Koos Doep se Gebed oor en oor.

So ry-ry en sien-sien, kom lê die oorbekende wete in my hart – na alles…al die hartseer…al die ervarings… al die jare bly daar werklik net die Liefde oor.

Vreugde ook en Vrede.

Maar bo-alles net die Liefde van mense en veral van God.”

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Hamba kahle Baba Credo Mutwa

  1. Salomé says:

    Geniet altyd die woorde spel uit jou pen en hart Perdita
    Ek ook jammer oor Credo
    Maar nou is hy ook n ancestor Vir ons

    Hamba Kahle

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s